Tuesday, 14 July 2015

Aandag!

Vandag 'n vinnige enetjie oor iets waaroor ek al jare lag. (Hierdie is een wat homself nie ernstig opneem nie. It's all good fun.)

In 1992 is diensplig nog verpligtend en begin ons planne maak om onsself uit dit uit te kry. Siekte, tydelike kranksinnigheid, 'n lewensbedreigende allergie vir gras en koeëls - you name it. 'n Paar manne sien nogals uit na die uitdaging, maar die meeste van hulle speel al sedert sub-b eerste span rugby en trek slégs tokse aan indien hulle die ander span se manne té gaar trap. Boerseuns met blou baarde en harde vingers. My baard is skaam vir die publieke oog en kom nie uit nie. Verder speel ek klavier en teken mooi. Die nuwe Suid-Afrika bestaan nog nie en daarom bestaan kadette nog. Nou ja, soms wil 'n ou darem ook bietjie in wees by die ander ouens en ek probeer toe om die drilpeleton te haal. Ek kan nie juis dans nie - nie eens strobelights op steroids laat my goed lyk nie. Maar ek weet darem dat my linkerarm en my regterbeen aan twee verskillende kante van my anatomie gegroei het. My tyd, daar march ek myself in die agterste ry in.

Die drilpeleton was nogals high-profile. Ons het allerhande artistieke moves gehad en moes Dinsdae en Donderdae hard oefen om in gelid te bly. So een maal 'n maand kry ons squad dit reg om foutloos te marsjeer. Een maal per máánd? Hoe werk julle besigheid dan? Jy sien, jy moet so deksels hard konsentreer omdat jou gat so vol ou skoene geskop word as jy droogmaak, dat jy dan júís stupid goed aanvang. Soos die drommel wat een maal per maand links as hy moet regs. Sy naam is gewoonlik iets skaars soos Ockert. Hy word dan al om die peleton gejaag terwyl die peleton al om die landboutuin trippel. Skeltaal slaan met geweld  teen die houtwerkklas vas en ruïneer die selgroep se sekulêre rewolusie: "Troep, ek sal jou piieep se piieepen neus afruk! En hom onderste-piieepen-bo vasplak! En as jy weer stort, sal jy ver-piepen-PIEpen-suip!!" "My liewe goeie herder, Troep! Ek sal jou onder jou piiiiiiiieeeeeeeeep skop dat jou byvoeglike naamwoord se selfstandige naamwoord  soos 'n stink snor onder jou neus sit!!!" Nee hel man, na die tyd wil niemand met jou speel nie. Ander kere moet ons voor die pawiljoen aantree. Een of ander snaar kom ons toespreek. En jy mag nie 'n ooglid roer nie. Teen 5am is dit al 32°C op die terrein. Jy markeer die pas sedert 05:30. Jy links, jy regs, jy halt, jy rig, jy mars. Netjies. Jy voel nogals trots. Teen 7am ruk jy op aandag. Volkslied, vlae, almal vreeslik waardig en presies. 07:15 begin die man se toespraak. Soms het die ou se kar oppad ge-overheat en kry ons kans om Die Stem se ander drie verse asook die vlaglied te sing. Jy roer nie. Want jys nie mal nie. Jy hoor g'n woord wat die ou vir jou seg nie - jy konsentreer met elke laaste bietjie wilskrag om regop te bly.

Februarie 1993 se koers is daar so 'n seremonie. Daar is 'n paar veterane wat die toekomstige troepe se opsies wil kom verminder. Die oggend 5am sukkel ons met die anneks se klavier na die veld. Met die neersitslag breek die sustain pedal en is dertien snare vals. Die musiekjuffrou was kwaai en het 'n groot bril gedra. Ons kyk na mekaar, sien moeilikheid, vergeet ons waardigheid en laat spaander tennishuisie toe. Ons jaag onsself op 'n hoop, vorm die linie en markeer met mening en met 'n ompad voor die pawiljoen verby. Mik met een oog vorentoe en die ander op die grond - dit was pas kleure-atletiek en jy kan nie kalk op jou skoene kry nie. Die hele peleton sit na die tyd met skeelhoofpyn en nekspasmas. Uiteindelik daag die Kruger Wildtuin op: buffels en ratels en rooikatte en olifante stop agter die pawiljoen naby die damestoilette. Vyf uniforms vol strepe en blink knope kom duskant die krieketnette om die draai gesnol. Dit gil. Hárd. AaaaaaaaaaaanDAG! Rrrrrrrrreeeeeeeeegs Om! RrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrIG op die regterflank! Voorwaaaaaaaaaaaaaaarts... MARS! En nie liek-lak-liek-lak-liek-lak-lui! op gewone spoed nie. Nee, dis soos 'n langspeelplaat wat van 33rpm na 45rpm verhoog word: lieklaklieklaklieklaklieklakluiHALT! Daar is meer stof as 'n biker wat 'n doughnut by die stock cars track gooi. Nie 'n greintjie emosie word by die manne bespeur nie. Niks buig nie. Almal salueer. Die eerste note van die volkslied kraak vals deur die 1920 megaphone. Die juffrou bloos dat haar bril opwasem en teen Vrydag staan die klavier op die veiling. Beheersd, eerbiedig en doof staan ons gaste egter na die blou lug en staar. Ek sien trane in die fier figure se oë biggel.

Dit is 'n ernstige, formele gedoente. Die laaste note sterf genadiglik weg. Die man in die middel skree vir homself bevele in 'n onvanpaste hoë bariton en voer elkeen noukeurig uit. Na 10 minute roep hy halt en eindig drie meter van waar hy begin het. Daar waar hy geparadeer het, groei vandag net grond. Hy lyk of hy te veel son en te min water tydens sy loopbaan gehad het - hy is so half uitgedroog. Hy trek los. Hy staan botstil tydens sy toespraak. Hy is in sy posisie gegiet. Hy het geen bakkebaard wat kan vibreer nie. Sy kakebeen beweeg egter heftig. Sy bek trek oop soos 'n padda wat versuip het. Sy kake gaan op en af én vorentoe en agtertoe. Kort-kort klink dit of iets uitglip, want hy maak so Ak!Ak!Ak!Ak! tussen sinne. 'n Standerd sewe suigeling met 'n deurskynende derma tiep reguit vorentoe, bek spierwit van die kalk. Hy ruk in dieselfde beweging weer wakker en wip soos 'n spring terug in posisie. My ouers het my geleer om die humor in situasies raak te sien en ek besef hierdie is nie een van daardie situasies nie. Ou Kake lyk besónder beïndruk - sy een wangspier wikkel weerbarstig soos hy sy oog moet forseer om weg te kyk van sy sidearm. Na 'n marathon se ge-ak!ak!ak!, ak!ak!ak! hy sy finale ak!. Die son trek water en bedankings word gedoen. 'n Ma-muskiet en haar kroos sit al van ligdag op die ou voor my se sweetnek en ek vermoed hy gaan voor matriek AWOL. Met nog 'n AaaaaaaaaaaaaanDAG! Lllllllllllllllllllllllllinks OM! is die lot daar weg. Ons word verdaag, die ou voor my ruk 'n aar oop soos hy krap en eerste pouse brand twee se boude wat vir ou Kake gelag het. So tussendeur die storie dink ek opnuut allerhande planne uit om die lydensbeker gespaar te word.

Of dit my skietgebede was, weet ek nie. Daar was waarskynlik 'n paar duisend ander jong seuns wat vele Kakes in aksie gesien het en by hulselwers gedink het, not-a-dêm. Maar in 1993 kom verpligte diensplig tot 'n einde. Op daardie tydstip is daar 'n klomp ouens diep onder die indruk van masochisme en gewere en is hul weermagplanne agtermekaar. Ekself is gedraft om lugmag toe te gaan. En toe kry ons die keuse. Ek dink terug aan Kake en Ockert. Ek dink aan gaan-haal-die-blaar-verkeerde-blaar-verkeerde-boom dramas. Ek dink aan onderwysers wat met smaak verkondig het hoe hulle van ligdag tot donker nag in shaki-kleurige uniforms en opryg boots rondgejaag en versimpel is. Hoe hulle tydens bottel-PT water leer haat het. In dieselfde asem jou dan die bevestiging gee dat dit die aangenaamste tye in hul lewens was. Bog. 'n Koue bier na 40km se fietsry in die Karoo-somer, is aangenaam. Om 'n brander op Diaz-strand plat te duik, is aangenaam. Om 'n hole-in-one te slaan, is aangenaam. Om in Goudini Spa se waterwurm af te gaan, is aangenaam. Die weermag klink na alles behálwe flippen aangenaam. Volgens my pa was dit vervelig. Ongelooflik vervelig. Ek is dus kibbutz toe waar ek pik geslaan en mooi arms ontwikkel het. Dit was allermins vervelig.

Ieder! So vertel my pa hoe hulle meestal rondgesit het, veral ná basiese opleiding. Soms het jy kilometers ver gery net om by 'n plek te kom, 'n dag of twee te wag, op 'n lorrie te klim en weer terug te ry. Dieselfde roetine, dieselfde klere, dieselfde kos. So het die troepe op 'n kol die heeltyd macaroni-en-kaas geëet. Een van hulle makkers het van Namakwaland af gekom het. Hy het 'n tipiese Namakwalandse manier van praat gehad en die ouens wou hulle vrek lag, maak nie saak wat hy sê nie. Tydens die macaroni-en-kaas stadium, stuur hulle hom op 'n kol na die voorpunt van die ry sodat hy kan sien of hulle sowaar as wragtag dieselfde kos kry. Met sy terugkeer lyk hy bra weemoedig: "So vogie vadeg, dus alweug puipe." Per geleentheid het hulle 'n stuk brood met vla bo-oor vir poeding gekry. En so het dit vir twee jaar aangeneuk.

Die een slag is my pa-hulle weer op pad na nêrens in besonder om niks in besonder te loop doen nie. Dit is 'n lang rit en die troepe het later niks meer om te sê nie. So tussen die stiltes deur begin een ou: "Guys, have you heard of the orangutan? Ja, sê hulle, hulle het al gehoor van die orangutan. "No", sê die ou, "you must say you haven't heard of the orangutan  before." Nee, sê die troepe, die troepe het dan maar nog nie van die orangutan gehoor nie. Seg die soldaat, "This animal is quite interesting. It has long arms and it swings through the trees. When it swings through the trees, its balls knock together and sounds like uRANG-uTANG-uRANG-uTANG." Hehehe, lag die troepe. Die tipe lag wat jy lag omdat jy al vergeet het wat lag is of omdat jy nie verstaan nie maar nie onnooslik tussen grootmense wil lyk nie. Soos dit egter met sekere siektes en familie is, is hierdie speletjie ook aansteeklik.

'n Paar troepe versit so effe van posisie en verveelde denke kry nuwe lewe. Gou-gou praat die manne allerhande stukke. "So have you heard about the Ostrich?", vra 'n skrale. Nee, sê die troepe, nog nooit van so iets gehoor nie. "Another interesting bird. This bird is a very big bird. This bird lays a very big egg. Each time this bird lays an egg, its arse streeeeetches to get the egg out. Therefore we call it the Arse-Stretch."

Wha-hahaha, lag die troepe. "So have you heard about the Ki-Ki bird?", vra 'n maer derm met 'n glasoog. Nee, sê die troepe, van so snaakse besigheid het hulle nou nog nie gehoor nie. Waar sou hulle nou van so snaakse besigheid gehoor het? "This", gaan Derm voort, "is a very rare bird. This bird has very strong wings. It flies very high into the air. So high that it runs out of oxygen. It passes out and starts falling back to the earth. A few meters before it hits the earth, this bird wakes up and, just in time, flaps its wings and just misses the earth. Everytime that happens it says 'Kikikiki-christ that was close'".

Hôhôhô-hehehehe-hahahaha, lag die troepe. Dit is die een storie op die volgende, die een meer belaglik as die ander. Die laaste een wat my pa kon onthou, gaan so. "So have anyone of you heard about the fakawe-bird?" Nee, sê die troepe, die troepe het nog nooit van so gedierte gehoor nie. "This is 'n truly remarkable animal. This bird lives in places with long grass. The grass shelters the bird from its enemies. The bird however has very short legs. So in order to see where it is going, it needs to jump up so that it can see over the grass. Everytime it does this, the bird yells, "Where the fakawe! Where the fakawe!"

Klink soos die weermag.

No comments:

Post a Comment