Friday, 3 July 2015

Glipballetjie


Die jeug van vandag is tegelyk armer en ryker as wat ek in my prille een was. Ryker in die sin van tegnologie en armer in die sin van tegnologie. Sosiale media, rekenaars, playstations, satelliet-TV, slimfone - dit is verseker 'n opwindende era om in te leef. Verbeel jou vandag 'n lewe daarsonder - dit is haas ondenkbaar. Ons raak daagliks meer en meer daarin verstrengel. Ons kla nie. Tensy die krag afgaan. Dit verg nie veel verbeelding om uit te pluis wat gesê word wanneer dit gebeur nie. Nie veel verbeelding nie. Die NWEHVNVIMH-sindroom steek dan lelik kop uit. Ongelukkig bly die krag nooit lank genoeg af om die katarakke van die gedoemde generasie se geestesoë te verwyder nie.

Ek sal natuurlik jok as ek sê dat my kinderdae nie met tegnologie gevul was nie. Selfs die grotman het kwansuis 'n kierie gehad waarmee hy onder andere sy vrou in toom kon hou. Dit was geweldig gevorderd vir daardie tyd siende die geskiedenis oor en oor bewys dat geen vrou sonder grofgeskud in toom gehou kan word nie.

Ons het nie 'n rekenaar gehad nie. Daar was nie selfone nie. Tablette was goeters wat jy met moeite either in jou keel af of in jou foefenjolie op forseer het. Die term GPS het nie bestaan nie - ons het hardekopie kaarte gebruik. Of op ons geheues staat gemaak. Dit het my sin vir rigting op 'n vroeë ouderdom reeds verfyn. I just kind of know where to go. Jongmense is geneig om ons middeljariges met agterdog te betrag wanneer ons van ons opwindende jeug praat. Die uitdrukking 'maar wat de hel het julle gedóén??' staan in elke frons en verwarde gesigsuitdrukking ge-ets. Wel.

Ons het 20-sent kafee-games gespeel. Die rykste ouers het VHS video-masjiene gehad en die semi-rykes Betamax. Soms het die geleentheid homself voorgedoen om 'n video te kyk. My ouers het nie van die idee gehou nie en dus was die opgewondenheid soveel groter die een of twee keer dat ek hulle geflous het en skelm na Star Wars gekyk het. Verder het ek en my suster met elektriese treine gespeel. Lang spore al die pad van die kombuis tot in my kamer gebou en sweets op 'n koletrok gelaai. Ek het model-vliegtuigies gebou. 'n Paar het ek met 'n kettie flinters geklits. Soms het ons TV-games gespeel. Nee, ons was darem nie heeltemal antiek nie. Een van my vorige posts gaan ietwat meer in detail in hierop. Ons het Donkey-Kong op Nintendo hand-held consoles gespeel. Sommige speletjies het twee screens gehad. Die boonste een is met 'n elektroniese plastiekpapiertjie aan die onderste skerm gekoppel. Kom daardie papier iets oor, is jy stuck op die onderste screen. Wie weet op watter avonture jy nie alles uitgemis het nie... Dan was daar so 'n gedoente wat Tomy Toys vervaardig het. Kyk, jy was NAT poef indien jy een besit het. Jy het die unit voor jou oë gehou, soos 'n verkyker. Twee beelde het dan oorvleuel om een beeld te vorm. Een van hulle het 'n space theme gehad waar jy goeters moes pot. Weereens was ek nie gelukkig genoeg om een te besit nie so ek sal helaas nooit weet hoe dit voel om nat poef te wees nie. Come to think of it: ek het al gesien hoe 'n renoster sy ablusie behartig - dit is horisontaal en nimmereindigend. Sy ogies trek sulke skrefies. Nee wat, I'm good. Dan het ons albasters en tol gespeel. Dit was 'n groot uitdaging om tegelyk met 'n tol, 'n albaster en 'n klimtol te jol. Het gewoonlik een of ander besering tot gevolg gehad. Soos 'n tol wat in jou voet peg terwyl die klimtol jou agter die oor tref net ná jy op die ghoen gly. Daardie jare moes jy nog daarvoor ook pasop - om seer te kry. Want jou ouers se eerste reaksie was een van skok en dit is gewoonlik met 'n paar taai klappe en 'n preek oor die gevare van onverantwoordelikheid opgevolg. Brom-brom steek jy maar jou tolle vir eers weg. Tot jy by die skool kom.

Ek het 'n geel Light Cycle besit. So reg uit die oorsponklike Tron-film. Die gedeelte van ons agterplaas waar die wasgoeddraad was, het 'n sementvloer gehad. Die cycle het 'n so kontrepsie ingebou gehad wat jy met 'n plastiek lever opgewen het. Dit het die agterwiel teen 'n hele klompie revs laat spin. Laat los die gevaarte en hy jaag met 'n stink spoed. Ek en Magiel het letterlik maande lank daarmee tekere gegaan. Dan is die ding onder Mary, ons huishulp, se voete. Sy skop heel mis en ons slaan op die vlug. Ka, ka, ka lag ons. Dan spring die kat drie meter vertikaal die lug in soos 'n geel streep oor sy stert ry. Kê, kê, kê lag ons. Dan jaag ons hom teen die gangtrappe af om te kyk presies hoe unbreakable unbreakable nou eintlik is. My pa het my eenkeer met 'n imuun-teen-child-destruction fisher-price grassnyer gegooi. Toe die ding die kaggel tref, maak die een wiel so zzzooooooeeeeiiiii soos dit losskiet. Die res van die parte skiet toe ook in alle rigtings. Mary moes maar opruim - ek het my lewe voor my sien verbyflits, besef ek het eintlik nog net skandes gemaak en toe gehol. Ek weet nie wat van die light cycle geword het nie. Maar ons kon hom nie breek nie. 

Ons het trokke gehad. Sulke plêstiek-numbers. Karretjies van metaal. En 'n sloot. Teen 'n afdraand.  Een ou het aan die onderkant van die sloot gestaan, een bo. Die een wat bo was het sy trok in die sloot geplaas en die ding so vinnig as wat hy kon in die sloot afgestoot. As jy met jou boude na onder wydsbeen oor die sloot gestaan het, kon jy die trok met 'n gawe spoed die sloot af slinger. Hoe langer jou arms, hoe beter. Die ou wat onder staan, doen dieselfde, maar in die teenoorgestelde rigting. Die idee was om te kyk of die ou wat onder staan die ou wat bo staan se trok van onder af kon lig en uit die sloot stamp. Of iets beskadig. So het ek 'n rooi resiesmotor gehad. Vaar ek een middag in my pa se gereedskap in op soek na 'n ystervyl. Ek vyl toe die kar se neus heel plat en lekker skerp. Die volgende dag tydens pouse staan ek gereed aan die onderkant van die sloot. Ryno staan bo. Hy het ekstra lang arms gehad. Hy laat loop met die trok en ek laat wiel met die tjorrie. Daai trok slaat daai tjor se grill dat die bonnet los oor my kop vlie. Die voorste as is so gebuig dat die een voorwiel nooit weer grond geraak het nie. Die hele suspension is in sy moer. En al die maatjies, myself inkluis, kraai van die lekkerte! Die karretjies was dirt cheap en die hele idee was eintlik maar om te kyk presies hoe erg jy die goed kon opfoeter.

Daar was voorts groot dosisse boomklim, foofy-slides, bmx-ramps. Ek onthou nog goed hoe ek eendag met my Mongoose gaan ramp het en so bietjie beheer oor die een sprong verloor het. Die opritte in 21ste Laan was legend. Daar was gewoonlik 'n skuins stuk waar die concrete en die sypaadjie by mekaar gekom het. Die sypaadjies was omtrent almal met gras bedek en die grond was nogals hoog. Die hele situasie het vir die kiefste ramps gesorg, net so neffens jou ouerhuis. Ek vat daardie Dinsdag 'n lekker vet aanloop en trap die pedale dat my knieë soos 'n woer-woer by my ore verby spin. Jaag teen volspoed teen die ramp op en pluk my bike se handles met die idee om die vurk sommer los af te breek. Ek seil sierlik deur die lug. Die stuk rubbish wil egter gravity loop staan en defy en ek sien hoe die voorwiel se tire al hoe nader kom. Ek was nou nie 'n fiets-arties nie, maar ek kon nogals wheely. Nee wat, daai dêm bmx wheely ágtertoe. Die laaste ding wat ek sien is Mosselbaai se blou lug. Daarna is dit net geluide en merke. Buite en binne my broek. Ek slaat neer, my rug bo-oor die ramp gebuig, my bene in vyf verskillende hoeke gespalk. Ek hoor iets kraak en sien na die tyd dis die posbus. Die bure kom aangehardloop om die oorblyfsels van die concrete af te skraap. Met 'n slap lykie strompel hulle na ons huis. Oorhandig die wasbleek oorskot aan my ouers. Die twee dink dis als moer snaaks. Nee wat, niks bloei nie, niks is gebreek nie so jy is fine. Ons het mense, loop speel buite! Jy ruik snaaks, loop stort eers! G'n genade nie. Toe sukkel-sukkel ek eventually buitentoe en loop skiet alies in die algemene rigting van die bure se skoorsteen. Ag vader, toe loop verkla die bouers ágter die skoorsteen die onnutsige klein duiwelsdrek van 'n satanslang by my ma. Daar begin my ellendes van vooraf.

Die punt is dit: ons moes menige male van ons verbeeldings gebruik maak om onsself te vermaak. Daar was nie 'n ding van jy wat saam met grootmense in 'n geselskap sit nie. Al uitsondering was die klaskamer en die kerk. Ons het darem 'n televisie gehad. Knight Rider, Magnum PI, Battle of the Planets, Die Man van Staal, Buck Rogers. Dit was dit. In my jare was televisie iets magies, iets om ongelooflik na uit te sien. Die kanse wat ek en my sus gekry het, was dun gesaai. Nie soos vandag nie. Vandag gluur die kind jou aan as jy dit waag om die nuus se hooftrekke te kyk. Nie oor jy simpel is nie; omdat hulle vasgeplak is. Omdat hulle verbeeldings namens hulle verbeel word. Omdat dit minder moeite is om die fliek te kyk as om die boek te lees.

Vakansies was ons gewoonlik in Bloubergstrand by my oupa en ouma. Hulle het nogals 'n paar skille gehad en die huis was baie mooi. Maar hulle het ook nie allerhande tegnologiese wonderwerke behalwe 'n televisie en 'n stoof besit nie. Ek en my suster moes maar sien kom klaar terwyl die ander spul gedoen het wat ander spulle ookal doen. Ons het gebrei, plakboeke gemaak, geswem, gelees. Ons het nie regtig nonsens aangevang nie - daarvoor was my oupa te beneuk. Die huis het lang gange gehad en ons het vir mekaar balle en alies gerol. Verder was daar trappe. 'n Hengse spul trappe.

My pa raak op 'n kol gatvol genoeg vir sy skoonmense se alewige stryery om alleen buitentoe te gaan. Hy vang my waar ek buite staan en soos Woofles en Waffels 'n bôl vir myself gooi. Sê mos ek is in die bol gepik. Hy vermoed ook so en begin saamspeel. 'n Paar minute later staan ons by die trappe - hy bo, ek onder. Nou gooi ons vir mekaar. Op 'n kol vang hy mis en die bal spat uit sy hande teen die trappe af. Die bal vang die voorpunt van 'n trap en glip ondertoe waar dit teen my enkels bons en tot stilstand kom. Net daar word die beste speletjie sedert snap gebore: Glipballetjie. Die besigheid werk so. Obviously het jy die meervoud van trap nodig en nie net een trap nie. Ten minste 10. Hoe meer, hoe beter. Een staan bo, een onder. Beide kan punte aanteken. Daar is egter nooit 'n wenner nie - dit is 'n toernooi wat slegs 'n begin het. Goed. Die een wat bo staan gooi 'n tennisbal teen die trappe af. Die doel is om die voorpunte van die trappe te tref sodat die bal laag deurskiet. Indien jy dit regkry, is dit die ou wat onder staan se taak om die bal te vang vóór dit die grond tref. Die bal mag dus slégs met die trap in aanraking wees. Vang jy mis, kry die ou wat bo staan een punt. Vang jy raak, kry jý een punt en word daar plekke geruil. En so gaan dit aan. Jy kan die hele dag staan en probeer om die voorpunt te tref. Tref jy dit nie, was dit nie in die boeke om die voorpunte te tref nie. Die enigste manier waarop daar geruil word, is as jy 'n glipballetjie wettig raakvang.

Ek en my pa het dit jare lank gespeel. Selfs op kerktrappe. Skooltrappe. Stoeptrappe. In die wildtuin. Ons het spiraaltrappe nooit getry nie - dit sou vrek snaaks gewees het. Ons reflekse ontwikkel teen 'n spoed en ons raak soms pootuit soos ons gedurig moet plekke ruil. Veral as daar baie trappe is. Hierdie is Extreme Glipballetjie: 
Dit is en sal altyd óns spel wees. Dit het ure se plesier verskaf. Dit was ons gemene deler. Gedurig is my gedagtes by ons en die trappe. En ek sluk die knop weg. Mens kan nie Glipballetjie alleen speel nie.

No comments:

Post a Comment