My neus het vir 'n paar jaar op dieselfde manier as vir ons bulldog se meeldrolle, vir rook opgetrek. Nie braaihout of kaia-vure nie - sigarette. Dit herinner my flussies aan ou Maxie wat by ons gewerk het, maar dit is 'n storie vir 'n ander dag. Ná skool gaan verken ek Israel - destyds was dit slegs die kibbutz se brandewyn waarvoor jy versigtig moes wees. Moes seker die woestyn gewees het, want ek kom dors op Stellenbosch aan. Menige maal het ek my in Bacchus se trossies verkneukel. Van 'n dak af gefoeter, seewater by brandewyn gegooi, my linkerlong platgeval, 30myl buite Stellenbosch op 'n tafel langs 'n hok met staldiere wakker geword. Die goed maak so mêê-mêê en ek sweer vir die soveelste keer ek raak nie weer aan 'n kruik nie. Ek het vir 'n wyle as Kakanja bekend gestaan. Maar hier is die ding waarop ek myself so soort van roem: ek is deur Universiteit met nul nikotien. Noem my 'n snob - met 'n gefronste tronie en 'n neus wat hier van bo my wenkbroue vir ieder en elk wat met die gemors flankeer homself wip, hou ek myself houlier thên thow. Die een senior Majubaan staan gedurig voor die snoepie en teug en vertel my dat "...Stuyvesant 'n bliep-bliep-bliep goeie sigaret is." Want dit bevat slégs soveel parafien en kug-kug slégs soveel dieldrin en dus kug-kug is dit eintlik baie beter vir jou as skoon teer. Kug-kug-kug. Ek skud my kop heftig, trek my neus dat my sinusse sonlig sien, sê kaaaak en weet ek maak nou dinge vir myself moeilik. Kyk, voor 1993 was omtrent alle skoolverlaters weermag toe gepos en het gestreepte setpille dit hul dagtaak gemaak om elke roof van enige aks naaisgeid te stroop. Bewapen met 'n onuitputlike arsenaal drolgeid het die saarges en die loets op eerstejaars se koppe gebol, vernaam diegene wat dwarsdeur hul kastige bravade en beledigende tirades gesien het. Enter Kakanja. Hy vreet eerder roadkill voor hy 'n mens se nalatenskap sluk.
So seil ek en my reputasie deur universiteit. Reputasies is deel van die lewe. Jy soek hom nie, maar hy vind jou. Verder is hy soos iemand wat graag jou vriend wil wees - jy raak op geen manier van die pes ontslae nie. Net soos Majuba se rugbyspanne. Toe wen hulle mos 'n slag. Hierdie is nie regtig enigsins relevant nie. Net soos Majuba se rugbyspanne.
In 2001 is ek moeg vir my pa, moeg vir my ma, moeg vir Ladismith. Met twee grade, 'n IT-Diploma en 'n klomp skuld agter my naam, board ek die eerste boot na die land van my ouma se aartsvyand - die Ingelse. As die bokke teen hulle speel, maak dit nie saak of die bokke die verfoeilikste 80minute in die geskiedenis van die spel pleeg nie - solank hulle wen. Al kry die hele spul ná die tyd lewenslank vir grievous bodily harm en bedrog. Sy haat hulle. "Hulle het ons ouers en ons kinders in konsentrasiekampe gesit, Janus!" hoor ek al sedert die droogte van '82. Die tannie het 94 gesien, vir hom middelvinger gegooi en wag nou met al haar opgekropte gevoelens in 'n Engelse aftreeoord tussen Engelse tannies vir 95.
Daardie jare is ek nog topfiks - dit hol en trap en suip en trap mis en hol in iets vas vir dood. Ek beland saam met twee Ladismitters in 'n woonstel in Wimbledon Park. 'n Ander bra wat een van die Ladismitters geken het, het ook daar gewoon. Ene Louis. Nie Louis Fick nie. Louis like sy ciggies. Stuyvesant Ekstra Mild. Van bliep-bliep-bliep-goeie-sigaret faam. Iets wat my steeds pienk tickle, is hoe intelligente mense die onnoselste goed kan aanvang. So kyk 'n roker wat 'n dokter geword het, my op 'n kol reguit in die oë en verklaar "Pan, jy sal nóóit rook nie." Op so smalende manier. Tipies harregat idiot wat ek is, dog ek so in my binneste, wag maar boks, ek sal jou nog wys. Toe ek weer sien, vra ek Louis vir 'n trek. En smaak dit lekker! Skielik proe drank ook beter. Ek tel later 'n effense ruk-hoesie op, maar dit verdwyn ná 'n wyn. So all's good. Nou moet jy weet: behalwe die keer toe ek en 'n paar vrinne bloekomboom blare loop brand
steek het en ons poepe drie dae later kwansuis nog na vernis gevrot het, het ek geen ervaring van die goeters nie. En 'n virgin wat nie meer 'n virgin is nie, kan nie sommer genoeg kry van daai dêng wat hom sy onskuld in die eerste plek gekos het nie. So begin
'n intieme verhouding met die blaar.
Skielik gaan die tyd verby. Toe ek my weer kom kry, staan ek in die agterplaas in Ladismith, stuyvie in die hand en my pa sê: "Gmf. Sien jy het ook toe daarby uitgekom." My pa het jare gerook. Texan Plain. Met ander woode sigarette wat sleg vir jou is. Hy moes later gatvol vir my ma se klanklose protes en gesug geraak het, want hy het na Holland House Regular in 'n pyp oorgeslaan. Sal die reuk nooit vergeet nie. Hy het altyd so 'n antieke reuk gehad, 'n walm van kalmte. Tensy hy op die gholfbaan was. Dan het daar klokslag 'n pakkie Texan verskyn. Wat teen die 18de putjie sy laaste straf uitdeel.
Ek sal nooit weet wat hy daardie dag in die agterplaas moes gedink het nie, maar hy kon nie trots gewees het nie. Op daardie stadium het ek natuurlik ook elke antwoord, selfs al is daar nog nie 'n vraag nie. So pappa moes maar 'n manier vind om te deal. Skielik gaan nóg tyd verby en sy hart gee in. En sit ek en my gewoonte vir die eerste keer in my lewe wérklik in die doldrums. Jare later het dit begin beter gaan. Nie met mnr Niko nie.
So tussendeur al die dinge raak ek al hoe meer verslaaf. Dit is terapeuties. Met elke trek trek jy die wêreld se probleme een-een in en blaas die oplossing een-een uit. Skielik kom my ma onverwags om 'n hoek gewaai en besef jy sekere probleme is so effe moeiliker om te eradikeer. Haar nekare staan soos worse van bemoerdgeid. Skielik verdwyn alle vorme van sorgeloosheid. Jy oorweeg om die ding in te sluk, maar jou bek is nog vol wyndampe en jy is bang jy combust internally. Erens tussen al hierdie verknorsings probeer jou brein sin maak van hoe op hierdie vader se aarde die vroumens se besigheid werk - sy woon 200km ver weg met twee bergpasse tussenin. Sy het nog nooit met die bakkie se clutch reggekom nie en derhalwe is die oorgang van eerste na tweede na derde 'n raserige affêre soos sy die petrol pomp en die gebrek aan kragstuur berispe. Maar nie op die dae wat sy jou vang rook nie. Nee, dan verskyn sy uit die niet. Kul jou hier, kul jou daar en siedaar! Daar staan jou ma. Party ma's is nog oraait - hulle stook either saam of hulle trek hulle lippies op 'n knop en gaan dan normaal aan. Nie myne nie. Sy brom en knor en swets en grom en sug. Sy pluk elke Leviet wat sy ken asook nuwes wat sy uitdink nader en skrobeer my behoorlik. Ná so 'n sessie hol ek eers 'n ent en steek dan iets op - mens se senuwees is gedaan. Jy dink nog jy sal oraait wees as jy so tien minute wag, twee pakkies clorets verorber en jou terugkeer maak. Los maar, pappa. Sy ruik hom op 'n myl. Sy laat 'n bloedhond bloos. Deur die jare het ek allerhande planne gemaak om haar te flous, maar tevergeefs. Later het ek maar vasgebyt en uitgehou as sy kom kuier het.
Tyd bring wysheid. Sy was reg.
Tien jaar later begin my longe dieselfde deuntjie teem: jy moet hierdie drek los. Nog drie jaar later besef ek wat ek op daardie stadium reeds ten minste 'n jaar lank geweet het: jou stupidgeid het jou ingehaal. Jy sal moet plan maak. Right. Nou begin jy strategieë formuleer. Die eerste een klink belowend: rook stelselmatig minder. Net so 40 'n dag. Volgende dag 39. Ens. Voor jy weet waar jy is, is jy verlos van die bose. Kus my gat. Daai is die grootste lieg wat daar kán bestaan. Vernaam a.g.v. die druif. Dit is godsonmoontlik om min te rook as jy 'n dop kap terwyl jy nog verslaaf is. Die twee vul mekaar boonop skouspelagtig aan. Sien, dit is alles 'n kwessie van balans. Die sigaret balanseer jou gewete dat jy alweer aan't suip is, uit - die drank is sleg vir jou, maar die sigret is slegter. En die drank het tot gevolg dat jy nie so skuldig voel oorlat jy rook nie - dis die wyn se skuld. Al manier hoe daardie strategie dálk vrugte kan afwerp, is as jy die wyn los. Se maai. Strategie een s'n ôk. Die ander geneuk is dat geen roker daardie tipe volharding het van elke dag een minder as die vorige dag rook nie. Vernaam a.g.v. die inevitable gesuip wat kort voor lank uitbreek. Vernaam die tipe wat alle vorige rekords in terme van goed wat breek verbeter. Jy's so geswaai jy kan somme met jou spermtelling maak. In daardie tipe toestand het jy nie 'n benul van enigiets beduidend nie. Die volgende middag voel jou lugweë asof 'n lorrie se exhaust in jou keelgat gerev is. En jy besef: dit is tyd vir 'n
Nuwe strategie: nét as jy wyn vat, vat jy 'n paar trekke. Klink goed! Lees mooi: 'n man kan tog nie so baie in die week drink nie - 'n man werk mos. Ga. Jy gaan élke aand 'n wyn vat. As ek van 3pm tot 6pm in 40°C gestaan en atletiek afrig het, met 'n spul muggies wat oral wil in en met 'n los kiestand soos jy jouself desmoers klap om van die helsems ontslae te raak, moet jy nie met 'n glas Oros kom karring nie. Nommer een want ek is gedehidreer. Nommer twee want die muggies. Nommer drie want 'n kjênd wie se asem na koshuiskerrie en aas ruik, het 'n ander een amper graf toe met die diskus gegooi. Die het ágter die een met die wapen gestaan, by the way. So my senuwees is gaar en Oros gaan nie help nie. Strategie nommer twee = epic fail.
Wat my by die gewaarwording wat ek wil deel, bring. Jy gaan nie ophou as jy nie OPHOU nie. September 2014 se koers begin ek myself opwerk. Jy moet dit los, jy moet dit los, jy moet dit los. So gaan dit week in, week uit, dag in, dag uit, vroeg tot laat, sonop tot sononder. Ek redeneer met 'n gwai in die een hand en 'n somefingkie in die ander. Ek gaan haal hom ver. Ek werk hom, ek wurg hom, ek bearbei, ek dreig. Allerhande moordgedagtes oor wat ek myself gaan aandoen as ek nie ophou nie, bou my vasberadenheid. Sowaar breek daar 'n dag aan. Geensins 'n besonderse dag nie. Net 'n doodgewone dag. Ek het hom nie gekies nie - hy het homself waarskynlik gekies: 1 Januarie 2015. Geen voornemens nie - dit is 'n groter lieg as strategie nommer een.
Mooi. My kop is op die regte plek en ek is gereed om vir almal wat so sukkel om te quit, te lag. Het ek maar geweet... Kyk, dit is een ding om 'n ding te los. Dit is 'n toetentaal ander ding om te besef jy het hom nou gelós en jy kan dit NIE WEER DOEN NIE. Dit is warm op Ladismith. Dit is atletiek op Ladismith. Laas jaar se diskus-abominasie het intussen 'n bril gekry en is nou nóg meer gedetermineerd om die besigheid vórentoe te slinger. Teen 5pm gee ek hom drie tellings vir 'n headstart - daarná laat loop ek met 'n halwe baksteen. Dit lyk soos 'n vlakhaas met 'n pendoring in sy foefenjors soos die man se gat tussen die bossies inhop. Ek voel hoe die venyn my goeie voornemens besoedel. Daar en dan skrap ek die hele stupid idee - ons gaan NOU rook. Nou. Ek strompel 6pm oor die drumpel reguit yskas toe. Nou begin die moeilikheid in alle erns. Intussen verwens ek my swak gees en loop soos 'n seniel staldonkie al in die rondte en kasty myself. Jou blêddie sleg nerf, dink aan ander goed! Pffft. Daar is nie 'n sigaret van 'n dag oud op die werf nie, nie eers 'n natgedoude ou toppie nie, maar daai etter lê en loer vir my. Ek kan my ooglede maar superglue - ek sien hom heeltyd. Ek hoor die vark boonop! Ek kan 10 kilogram steel putty in my ore prop - die klaaglied versterk eksponensieël. Hy terg my, hy treiter my. Hy tart my tot in my drome. Hy laat my wakker skrik met die bewerasies. Hy mis my geselskap. Hy is alleen. Hy haat my dat ek hom versaak. Ek hoor hoe hy hortend hyg: ou Pannie, one for the pat. My kiewe kry klontjies. Ek val rond soos 'n ding wat gif ingekry het, trap die gras vrek, fluit Sarie Marais, doen wawiele en flik-flakke. Die honde raak benoud en pis teen die kruiwa. Ek kou 'n handdoek dat hy net mooi om 'n toiletseat sal pas. Ek ruk sulke repe uit wat net mooi die gat in die voorhuis se blindings sal opfix. Ek druk my kop tussen my knieë en trek vicegrip op myself. Ek hoes sulke bollings gop uit wat jy ook by builders warehouse se kunsmis-afdeling kan koop. Ek sien hoe my hemde krimp en fire amper ons huishulp. *Sug*, dit is een gewigtige saak.
Ek is vandag, ná ses maande en 'n nuwe klerekas, skoon. Sonder pille, sonder patches - net ek en daai blêddie handdoek. Met al die geld wat ek gespaar het, wil ek terug in tyd toer. Na 2001 in Wimbledon Park. Ek wil daai eerste fag los uit die klontkop se lippe klap. Ek wil hom aan sy boudwolle rondruk en hom met 'n lawnmower tussen bushaltes rondjaag. Ek wil vir Kakanja sê jy het géén idee presies hoeveel nie. Hoe waansinnig moeilik dit is om hierdie tipe verslawing hok te slaan. Want hy het my deur hel gesit. Ek moet seker trots wees op wat ek vermag het, maar ek is nie. Ek is net vaderdank bly ek hou uit. Ek sou eerder wou hê dat my pa dit kon sien. Hy sou verseker iets gehad het om op trots te wees.
Raak ek nog lus? Elke dag.
No comments:
Post a Comment